Ons OOG-groepie het 2004 op ´n hoë noot afgesluit deur ´n
lekker gesellige byeenkoms by die Wamakersvallei
Voortrekkerterrein op Wellington. Alhoewel OOG-lede voorkeur
gekry het, was die publiek ook uitgenooi deur ´n beriggie in die
plaaslike koerant, die Paarl Pos te plaas. Die
belangsteling was goed en is uiteindelik deur sowat 35 mense
bygewoon.
Ons moes behoorlik bontstaan om almal se vrae
te probeer beantwoord.
|
Die aand was in die vorm van ´n bring-en-braai en ´n paar
OOG-lede het hulle teleskope saamgebring en opgestel vir almal om
deur te kyk. Ek het besluit om op satelliet-jag te konsentreer en
het my CoSaTrak (Computerised Satellite Tracking) stelsel,
toegerus met ´n gemodifiseerde sekeriteitskamera, opgestel. Die kamera se beeld
is op twee monitors vertoon sodat almal dit kon volg. Ons was
gelukkig en kon ´n hele verskeidenhied interessante satelliete
sien, insluitende die Hubble Ruimte-teleskoop, flikkerende
satelliete en ´n NOSS trio (drie satelliete wat saam, naby mekaar
in formasie vlieg). Die hoogtepunt was egter ´n "Iridium Fakkel"
wat presies op die voorspelde oomblik helder geflits het!
Almal se aandag is op die posisie in die lug
waar ´n helder Iridium Flits gaan
verskyn.
|
Twee kort praatjies was aangebied: Auke Slotegraaf, die
redakteur van die handboek van die Sterrekundige Vereeninging van
Suid Afrika (ASSA), het ons ´n bietjie agter die skerms geneem
van die produksie van Sky Guide 2005. Hierdie uiters handige
handboekie was ook te koop teen ´n spesiale prys. Ek het ´n
klompie gedagtes gewissel oor die moontlike oorsprong van die
Betlehem-Ster wat groot byval gevind het. My praatjie is deur
Dana Loots afgesluit met ´n gepaste gebed wat mooi by die
Kers-stemming van die geleentheid aangesluit het.
Auke Slotegraaf (regs) teken Rudie Loots se
2005 Sky Guide.
Rudie was die wenner van ´n opstelkopetisie wat deur ASSA
uitgeskryf is.
|
Aanvanklik was ons uitsig effens belemmer deur redelike dik
wolke maar later het dit pragtig oopgetrek. Toe dit lekker donker
was, het Louis Fourie ons op ´n "toer" deur die naghemel geneem
deur die uitwys van konstallasies en helder sterre, keurig
ingekleur met interessanthede en mitologie.
Serena het skynbaar moeiteloos daarin geslaag om die saai
Voortrekkersaal om te tower in ´n feestelike atmosfeer, kompleet
met ´n blommerangskikking, kerse, ens. Die saal het later ´n al
hoe geselliger kuierplek geraak toe lekker warm koffie en
plaatkoek bedien is.
OOG se koffers was mooi aangevul deur die verkope van Sky
Guides en donasies en ons ledetal het weereens lekker
gegroei.
Willie Koorts
|