Maan - Jupiter samekoms: 22 April 2005

Ons beplande OOG byeenkoms by die Taalmonument in die Paarl, moes op die laaste nippertjie gekanselleer word as gevolg van swak weer. In die hoop op darem nog iets te kan sien deur gate in die wolke, het ek my toerusting in my agterplaas begin opstel. My idee was om hierdie byna okkultasie (soos gesien vanaf die Kaap) te gebruik as ´n oefen geleentheid vir die okkultasie op 20 Mei 2005.

Sowat tien minute voor die "hoofgereg" was ek klaar opgestel in my agterplaas. Ten einde ´n effens beter kans te hê om die maan laag op die horison te kan sien, het ek my teleskoop ´n bietjie gelig deur dit op sementblokke op te stel. My pogings was egter uiters desperaat teen die wolkmassa op die oostelike horison.


Om 18h00 het dit so gelyk in die rigting waar die maan ongeveer moet opkom.
Die blou gat in die wolke het my effens moed gegee.

My hoop het egter beskaam. Dit was my uitsig teen 18H13, die
tyd wat Jupiter en die maan die naaste aan mekaar was!
Intussen het ek die teleskoop probeer fokus vir die digitale kamera, maar ek het ´n tekort aan teikens ondervind. My fokus-metode vereis ´n helder voorwerp met detail soos die maan, maar van dié was daar egter geen sprake nie. Alhoewel daar ´n mooi oop kol agter my was, was die deel van die hemelruim van belang, dig toe sodat ek nie eens kon agterkom waar die maan moet sit nie.

Eers na ´n uur van afwagting, het die wolke begin dunner raak in die rigting van die maan en kon ek die teleskoop daarop rig en die kamera rofweg fokus en zoom. Toe daar ´n opening in die wolke kom, het ek twee vinnige fotos geskiet, sommer so uit die heup uit. Na die tyd, op die rekenaar kon ek sien dat die een effens oorbelig was, maar die een (hier onder) was darem nie te vrot nie.


My eerste geleentheid om die verskynsel te fotografeer was eers om 19H10.
Teen hierdie tyd was Jupiter en die maan alreeds 20 boogminute (2/3 maandeursnit) uitmekaar.
Jupiter se deursnee was 44 boogsekondes en sou die maan met slegs 24 boogsekondes mis vir ons.
Aangesien ek voor die tyd nie ´n idee gehad het van die veldwydte van die kamera deur my teleskoop nie (dit was my eerste poging met my nuwe digitale kamera, ´n Canon PowerShot A510), het ek aanvanklik my langste fokuslengte oogstuk (28mm) gebruik wat die wydste veld gee. In die foto hierbo kan gesien word dat ek net-net altwee teikens in die veld kon inpas. Toe die wolke na ´n hele ruk weer oopmaak, was hulle reeds te ver uitmekaar om te pas. Voordat ek na ´n hoë vergroting oogstuk verander, het ek die onderstaande foto van die maan geneem (die donker vlekke is veroorsaak deur wolke).
In die afwesigheid van die maan, was Alpha Centauri (links) ´n goeie teiken om die kamera met ´n 19mm oogstuk te fokus.

Die "seeing" was verbasend goed vir sulke gure toestande soos latere pogings om Jupiter en Saturnus te fotografeer bevestig het.

Teen 21H00, net voor Ganymede "geskeduleer" was om agter Jupiter te verdwyn, het dit vir omtrent tien minute mooi oopgetrek in daardie rigting. Ek kon Ganymede nie uitmaak op die kamera se skermpie nie, maar kon dit wel later op die rekenaar bevestig. Ek het genoeg tyd gehad om ´n reeks fotos te neem teen verskillende sluiterspoed wat verskillende aspekte sigbaar maak.

Terwyl die streeppatrone op Jupiter nog sigbaar is, is sy mane baie dof.

Om te belig vir Jupiter se mane, raak die planeet oorbelig

Die maan bly maar steeds ´n wonderlike teiken vir astrofotografie, veral in goeie seeing!

Willie Koorts

© 2007 OOG. Alle regte voorbehou