Hierdie was ook 'n
OOG-geïnspireerde, eerder as 'n OOG-georganiseerde sterre-aand.
Een van ons veraf-geleë OOG-lede, Ria Beukes van Kamieskroon het
met die voorstel gekom om 'n sterre-aand daar by hulle op die plaas te
hou. Ria en haar man, Koos, het al tevore sulke byeenkomste met groot
suskses daar gereël, meestal in die vorm van skrywersaande en toe
selfs vir Daniel Hugo van RSG daar gehad. Haar organiseringsvermoë
vir so 'n groot groep het my verstom - sy ken skynbaar nie stres nie!
Die formaat was soortgelyk aan die sterre-aande by Simonsvlei en Eikendal
wat 'n ete, sterrekunde lesing, 'n naghemel "toer" en sterrekyk deur
verkykers en teleskope ingesluit het. 'n Aangename verskil was 'n
musiek voor-program deur plaaslike kunstenaars wat 'n heerlike stemming
vroegaand verleen het.
Die kos het onder
andere 'n eg Namakwalandse afvalpotjie ingesluit waaraan ek my
verlustig het! Soos wat die mense hom hier braai, hoef geen
Namakwalandse skaap terug te staan vir ´n Karoolam nie.
OOG-lede Louis Fourie
en Adri Louw het my bygestaan met die aanbiedings en teleskope-beman.
Een besoeker wat nie die aand kon bywoon nie, het sy nuwe, volle
automatiese GPS teleskoop saamgestuur en aan ons toevertrou om te
gebruik vir die aand. Louis het nie gras onder sy voete laat groei nie
en het binne ´n ommesientjie hierdie teleskoop baasgeraak en die
hele wêreld rondgeswaai om mense daardeur rond te wys.
Die geleentheid was
gereël vir Saterdag-aand, 15 Januarie 2005. Die datum was so
gekies sodat die mense vroegaand na die 5-dag-oue Maan kon kyk. Later
die aand, nadat die Maan gesak het, kon ons die donker Namakwalandse
naghemel in al sy glorie geniet. Saturnus was ook ideaal geplaas vir
besigtiging. Vir diegene wat nie 110 000 jaar kon wag tot sy terugkeer
nie, kon vir oulaas Komeet Machholz sien voordat dit oor die noordelike
horison vir ons in Suid Afrika verdwyn het.
Vir my persoonlik was
dit 'n groot plesier om in te val by 'n goed georganiseerde naweek en
'n belewenis om die Namakwalandse gasvryheid eerstehands te ervaar. Ek
en my familie het met 'n swaar hart weer Sondag vanaf die Kamiesberg
teruggekeer na ons effens meer gejaagde lewens in die Boland.
Willie Koorts
Fotos van die omgewing
|