Die onmiskenbare uitdraaibord na Witjan en
Elsa se plaas Houdenbek waar die kursus aangebied was.
(Foto: Hansie Schreuder)
|
|
´n Behoefte aan praktiese leiding vir die gebruik van
teleskope, waarna om te kyk, ens. was geopper deur OOG-lede sowel
as ´n inbeller na Sterre en Planete een aand. Dit het my
aangespoor om ´n naweekprogram en ´n werkboek saam te stel, gemik
op praktiese sterrekunde.
Die teikengroep het mense ingesluit wat alreeds teleskope
besit, maar leiding verlang om dit behoorlik op te stel en
effektief te gebruik. Die werkswinkel was nie net beperk tot
mense met teleskope nie, aangesien daar ook aan blote-oog en
verkyker waarnemings aandag gegee was. Ook mense wat nog gewonder
het oor watter tipe teleskoop om aan te skaf, kon eerstehandse
kennis hieroor opdoen.
Ander aspekte wat gedek is, was onder andere sterrekundige
termologie, die lees en gebruik van sterkaarte, die vind van
interessante voorwerpe in die ruimte en hoe om ´n teleskoop
daarop te rig, astro-fotografie, ens.
Die mees ideale plek vir sterrekunde bly maar die Karoo en
daar is gesoek na ´n geskikte plek in die nabyheid van Sutherland
sodat ´n besoek aan die Sterrewag, veral SALT (toe nog in aanbou)
ingesluit kon word. Die Skurweberg gasteplaas was
geïdentifiseer met genoegsame slaapplek en selfs ´n
"lesingsaal". Hulle kon ook al die etes voorsien wat uit die
boeke was, veral hulle beroemde Karoo lam. Vir gades en kinders
wat nie vir die kursus ingeskryf het nie, bied Skurweberg heelwat
om te doen sodat niemand ooit verveeld was nie.
|