OOG-lede was spesiaal uitgenooi om die jaarlikse bustoer na Sutherland, aangebied deur die
Wellington-tak van die ATKV, mee te maak. In die Augustus 2006 nuusbrief beskryf Serena die toer as volg:
Oor die naweek van 29
en 30 Julie was veertien OOG-lede bevoorreg om saam met Willie Koorts,
Daan Spamer en lede van die ATKV van Wellington ´n toer na
Sutherland te onderneem. Dit was ´n hoogs gesellige klop wat,
gewapen met knibbelpakkies en kameras, teruggesit het in die luukse bus
en na die staaltjies en stories geluister het waarmee Willie ons op die
lang pad vermaak het.
Deel van die toergroep in die kroeg van die hitoriese Lord Milner Hotel op Matjiesfontein.
|
By Matjiesfontein het ons afgedraai na Sutherland en kennis gemaak met die verleidelike
natuurskoon van die Roggeveld. Ons het met nuwe oë na die rotsformasies van die Karoo-landskap gekyk en stadig begin besef
dat die naweek nie net oor sterre en teleskope sou gaan nie, maar dat dit ook een van geskiedenis, legendes en kultuur sou wees.
Dié "Koos" uit die museum op Matjiesfontein gee OOG ´n heel ander betekenis!
|
Die hoogtepunt van
die naweek sou ongetwyfeld ´n besoek aan die SAAO fasiliteite op
´n koppie 18 km buite die dorp wees. Baie sou afhang van die weer
en teen laat agtermiddag het vlieswolkies in die hemel rondgeskarrel -
almal het asem opgehou. Maar kyk, die ATKV weet hoe om dinge te reel.
Na aandete het ons uitgekom om ´n skouspelagtige sterrehemel te
vind. Toegewikkel in jasse, serpe en musse het ons reggemaak om die
aand tussen die sterre te baljaar.
Daar is twee GOTO
teleskope by die Besoekers-sentrum - ´n 14" Celestron en ´n
16" Meade. Onder Willie se professionele leiding, bygestaan deur Rudie,
was ons in staat om menige van die suidelike hemel se pragstukke te
sien, waaronder die dubbele-sterre van Alpha Centauri, die bolvormige
sterrehoop Omega Centauri, die Suiderkruis se Kolesak en Juweelkissie,
Antares en die bolvormige sterrehoop M4 en die asemrowende Eta Carinae
newel. Daar is na Jupiter en sy mane asook die kraters op die Maan
gekyk en net toe ons gedink het dis tyd om huis-toe te gaan, verskyn
die Klein Magellaanse Wolk en 47 Tucanae!
Om die aand af te
sluit is Willie se DVD, wat die basiese beginsels van sterrekunde
verduidelik, asook ´n oorsig oor die bou en status van SALT gee,
aan ons gewys. Dit alles natuurlik in voorbereiding vir ons besoek die
volgende dag.
Rudie in die voorgrond met Serena, Carol en Daphne agter en Lumé by hulle.
|
Vir die meer
avontuurlustige toerlede was die aand nog jonk na ons terugkeer van die
Sterrewag en terwyl die meeste van ons snoesig onder donskomberse
geslaap het, was Carol Botha en Rudie Loots besig om na die Suidelike
delta Aquarid sterrereen te soek. Gewapen met die Sky Guide het hulle nie minder as 20 binne die bestek van ´n uur gesien!
´n Groepfoto van die OOG-lede op die toer poseer voor SALT.
|
Sondagoggend, na
´n reuse ontbyt, het ons die kronkelpaadjie na die tuiste van
SALT gevat. Teen dié tyd is sy kenmerkende koepel en toring
bekend maar niks berei mens voor vir wat binne gevind word nie. Die
teleskoop met sy 91 heksagonale spieëls beweeg seepglad op
lugkussings soos ´n skeertuig en dit neem minder as vyf minute om
die 90-ton struktuur in posisie te kry. Elke segment is 1 meter in
deursnit, 50 mm dik en weeg ongeveer 100 kilogram. Die volger-apparaat
is 13 meter bokant die spieël gemonteer en kan as die hart van die
teleskoop beskou word. Dit is verantwoordelik vir die versameling van
al die optiese inligting vanaf die hoofspieël deur ´n
stelsel van vier spieëls wat die sferiese afwykings korrigeer en
die posisie van die voorwerp vasstel en dit dan na die rekenaar oordra.
(Vir meer inligting sien OOG nuusbrief van Oktober 2005.)
´n Groepfoto van die toergroep teen die agtergrond van die Sutherland Sterrewag.
|
Na ´n
onvergeetlike oggend was ons toergroep traag om afskeid te neem van
hierdie interessante Karoo-dorpie met sy vriendelike mense. Nuwe
vriende is gemaak en nie minder as tien lede is vir OOG gewerf. Groot
was ons verbasing toe ons ´n dag na ons terugkeer foto´s op
TV en in die koerant van Sutherland sien wat wit onder ´n
halfmeter sneeu lê. Paaie was vir dae onbegaanbaar - seker ook
maar goed dat ons nie te lank op die koppie getalm het nie!
As gevolg van groot belangstelling, was daar ´n tweede toer oor die naweek van 16-17 September 2006.
Groot was ons verbasing toe die sterrewag-koppie in ´n sneeukombers bedek was tydens ons dagbesoek.
|
|