As agtergrond tot die stigting van OOG, moet ons
teruggaan na die trein wat RSG Sterre en Planete gereël het na Messina
om die algehele sonsverduistering van 4 Desember 2002 te besigtig.
Oorspronklik sou Faan le Roux, Hennie Maas se tweede mede-aanbieder
van
Sterre en Planete (saam met Louis Barendse destyds), die toergids op
die trein wees. Ek sou as
hulpgids optree. Na Faan se skielike dood, word ek hoofgids
aangesien Louis ander verpligtings gehad het.
Serena Ingamells was ook op die trein, waar ons mekaar ontmoet het.
Serena vertel agterna hoedat sy weer met nuwe entoesiasme aangevuur
was na haar terugkeer huistoe as gevolg van die direkte en indirekte
blootstelling aan sterrekunde op die trein. Sy het gou weer haar
teleskoop afgestof nadat sy ´n tyd tevore
bietjie belangstelling verloor het weens onder andere "sterrekundige
isolasie".
Kort daarna (op 8 Maart 2003) reël ons die
Simonsvlei sterre-aand waarvoor Serena ook bespreek.
Die aand voor die byeenkoms bel sy my en opper die gedagte om by
Simonsvlei die belangstelling te toets vir die stigting van ´n
moontlike belange-groepie. Sy vra of ek bereid sal wees om as "herder"
op te tree. Sy spreek haar bereidwilligheid uit om sekretaresse en sameroeper te
wees. Ons besluit om ´n lys beskikbaar te stel waarop belangstellendes
hulle kontakbesonderhede kan invul nadat ons dit aangekondig het.
Ek bespreek dit met Hennie en tydens my spreekbeurt kort voordat
die mense verdaag om deur die teleskope te gaan kyk, stel ons
Serena se voorstel bekend en nooi mense met meer as ´n verbygaande
belangstelling om hul name op die lys in te vul.
Ongelukkig het ons nie besef dat die Simonsvlei personeel die lokaal
waar ons die lys neergesit het, kort daarna sou sluit nie. Dit het
tot gevolg gehad dat mense wat dalk nog hul name wou opskryf, voor
´n toe deur te staan gekom het. Nogtans het meer as ´n
dosyn mense gereageer, ons stigterslede.
Willie Koorts
|