Die Naam

As "bestuur" van die nuutgestigte belangegroepie na die Simonsvlei sterre-aand, korrespondeer ek en Serena gereeld. Kort na die stigting heg sy eendag ´n pragfoto van Orion aan ´n e-pos. Kort daarna (op Dinsdag, 25 Maart 2003, om presies te wees), terwyl ek besig was om ´n e-pos te tik, kom die gedagte van die naam "Orion Observasie Groep" uit die bloute by my op. Dit was werklik net op die ingewing van die oomblik, seker nog die gevolg van daardie wonderbeeld van Orion wat in my kop bly vassteek het.

Die afkorting OOG met sy dubbele betekenis en relevansie tot ´n observasiegroep wat sterrekyk het sommer dadelik byval gevind. En die afkorting bly selfs onveranderd in Engels, sou ´n mens dit wou vertaal.

Soos hulle sê: "Die res is geskiedenis", want die naam het bly vassteek en is vandag stewig gevestig.


 Die Logo

Die idee van ´n OOG logo het posgevat vroeg in 2004. In die April 2004 nuusbrief het ons die behoefte uitgewys en die OOG-lede gevra om hulle verbeelding te laat gaan en ontwerpe in te stuur. Serena het ook haar broer, ´n argitek, gevra vir idees. Sy het self hand op papier gesit, maar haar pogings nie goed genoeg geag om iemand toe te laat om dit te sien nie.

Ek het ´n paar idees gehad, maar is ongelukkig nie kunstig genoeg om hierdie idees tot hulle reg te laat kom nie. Een van my mede treinpendelaars, Edward Lategan (wat intussen by OOG aangesluit het en instrumenteel tot hierdie wondelike webwerfuitleg) is ´n webblad ontwerper van beroep en het ´n goeie aanvoeling vir logo-ontwerp. Met ´n hupstootjie van Edward, het my idees gaandeweg vorm aangeneem en uiteindelik uitgekristalliseer tot hierdie ontwerp.

Ongelukkig is geen ontwerpe van OOG-lede ontvang nie en is die huidige ontwerp in die Julie 2004 nuusbrief aanvaar en vir die eerste keer op ´n nuusbrief gebruik. Dit was die eerste keer vertoon tydens die spesiale maansverduistering op 4 Mei 2004 en gebruik op die kursusmateriaal van die Skurweberg werkswinkel kort daarna.

Die simboliek van die Orion sterrebeeld wat vanaf ´n mens se oogbal weerkaats is selfverduidelikend.

 

© 2007 OOG. Alle regte voorbehou